Die bestuur van okkupeerders op landbougrond

25 July 2013 391

Die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg 62 van 1997 (die Wet) is op die wetboeke geplaas om effek te gee aan veral Artikel 25(6) van die Grondwet wat lui:

‘n Persoon of gemeenskap wie se besitsreg van grond regsonseker is as gevolg van wette of praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskimineer het, is geregtig in die mate wat deur ‘n parlementswet bepaal word, op óf besitsreg wat regseker is óf gelykwaardige vergoeding.

Die Wet is van toepassing op persone wat met toestemming op landbougrond woon en minder as R 5 000.00 per maand verdien.  In die praktyk veroorsaak veral drie kwessies wat hiermee verband hou groot probleme, naamlik okkupeerders se vee, hulle familie en begrafnisse.

Dit is belangrik om onderskeid te tref tussen regte wat outomaties voortspruit uit ‘n okkupeerder se verblyfreg, en dié waaroor daar uitdruklik met die grondeienaar ooreengekom moet word.  Die regte tot ‘n gesinslewe en om ‘n okkupeerder te begrawe val in eersgenoemde kategorie, terwyl die reg om vee aan te hou in laasgenoemde kategorie val.  Dit is in hierdie opsig noodsaaklik om te vermeld dat enige ooreenkomste tussen ‘n grondeienaar en ‘n okkkupeerder bindend is op opvolgers in titel.

Die gevolge van verlening van verblyfreg en veral onvoldoende bestuur daarvan kan verreikende gevolge vir grondeienaars inhou.  ‘n Grondeienaar sal nie sy ideale verkoopprys vir sy grond kry in situasies waar daar okkupeerders is nie.  Voornemende kopers kan selfs heeltemal afgeskrik word daardeur.  Laastens kan die situasie van so ‘n aard wees dat grond voortdurend en sonder enige behoorlike toesig betree word deur onbekende indivudue wat dan tot verdere probleme kan lei.

Hier volg ‘n paar wenke vir landbougrondeienaars vir die effektiewe bestuur van okkupeerders:

  • Sorg dat alle ooreenkomste op skrif is en dat die okkupeerder dit verstaan. Gebruik ‘n tolk indien nodig.
  • Ooreenkomste moet voorsiening maak vir soveel as moontlik probleme wat mag opduik.  Maak veral voorsiening vir vasgestelde kennisperiodes, presiese hoeveelhede vee, presiese afbakening en beskrywing van kampe sowel as die beheer van onkruid.  Dit is uiters belangrik om dit ‘n kontraksbepaling te maak dat alle wysigings skriftelik moet geskied.  Gegewe die hoeveelheid slaggate in hierdie verband is dit raadsaam om professionele bystand in die opstel van so ooreenkoms te kry.
  • Formuleer duidelike plaasreëls met betrekking tot besoeke, toegangsroetes en verbode handelinge en maak seker dat alle okkupeerders kennis dra daarvan.
  • Hou vir ‘n onbepaalde tyd alle skriftelike rekords en ander bewyse en maak dit beskikbaar aan opvolgers in titel.  Poog om bewyse, hetsy in die vorm van verklarings, foto’s of videos, te verkry vir alle voorvalle wat moontlik relevant mag wees.
  • Moenie te lank wag voor probleme aangespreek word nie.  Toestemming kan ook stilswyend deur ‘n grondeienaar gegee word.  Plaas dit dadelik skriftelik by wyse van ‘n kennisgewing aan so ‘n persoon op rekord, indien toestemming om op die grond te woon ontbreek.
  • Inspekteer op ‘n gereelde basis bewoonde areas en let op enige uitbreiding van wonings en kudde wat buite die ooreenkoms val.
  • Omstandighede mag dit noodsaak om skikking te oorweeg.  Die langtermyn voordele oorskadu die meeste korttermyn oorwegings.
  • Gaan spreek jou regsverteenwoordiger om te verseker dat daar van meet af aan die wetlike vereistes voldoen word ten einde onnodige werk en tyd te spaar.

Die goue reël, soos met alles, is om pro-aktief te probeer wees. 

Tags: Agri, Eviction, Farming
Share: