Hereregte of BTW?

30 September 2013 ,  Mihan Bester 947
Die vraag ontstaan dikwels na wanneer, by die verkoop van onroerende eiendom, hereregte en wanneer Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW) betaalbaar is. Die een of die ander is altyd betaalbaar en word hierdie artikel bymekaargestel om kortliks te verduidelik wanneer welke een betaalbaar is.

Die eerste en belangrikste aspek by die bepaling van wanneer hereregte en wanneer BTW betaalbaar is, is die status van die VERKOPER. Met ander woorde, is die Verkoper ‘n ondernemer vir doeleindes van die spesifieke transaksie. Indien die Verkoper nie ‘n geregistreerde BTW-ondernemer is nie, sal hereregte betaalbaar wees. Hereregte is betaalbaar op hetsy die bedrag vergoeding wat op ‘n spesifieke transaksie betaalbaar is, of indien daar geen vergoeding betaalbaar is nie, op die verklaarde waarde van die eiendom. Indien die Ontvanger van Inkomste egter van mening toegedaan is dat die bedrag van die vergoeding of die verklaarde waarde van die eiendom minder as die billike markwaarde is (wat dikwels gebeur wanneer familie eiendom aan mekaar verkoop), mag die Ontvanger gelas dat die billike waarde vasgestel word en sal hereregte dan op die grootste bedrag deur die Koper betaalbaar wees. Die bedrag hereregte betaalbaar op ‘n transaksie word as volg gehef:

  • R0 tot R600, 000.00  teen 0% van die waarde van die eiendom
  • R600, 001 tot R1, 000, 000.00 teen 3% van die waarde bo R600, 000.00
  • R1, 000, 001 tot R1, 500, 000.00 teen R12, 000.00 + 5% van die waarde bo R1, 000, 000
  • Vir alle bedrae bo R1, 500, 001 teen R37, 000 + 8% van die waarde bo R1, 500, 000
Dit is insiggewend dat hierdie skaal van toepassing is op natuurlike persone en sedert 23 Februarie 2011 ook op regsentiteite soos trusts, Beslote korporasies en maatskappye. Artikel 9 van die Wet op Hereregte, Wet 40 van 1949 bevat egter ‘n opgawe van transaksies wat van die betaling van hereregte vrygestel is.   

Indien die Verkoper in ‘n bepaalde transaksie inderdaad ‘n geregistreerde ondernemer is, moet die vraag gevra word of hy wel vir doeleindes van die speifieke transkasie geregistreer is. Met ander woorde, die eiendom wat verkoop word moet verband hou met die onderneming waaruit hy sy inkomste verdien. Indien dit die geval is, sal die Ontvanger BTW van die Verkoper eis. Wanneer jy dus ‘n BTW ondernemer is en jy enige bate verkoop, is dit baie belangrik om onomwonde aan te dui of die ooreengekome prys BTW insluit of uitsluit. Indien jy dit nie pertinent aandui en die BTW word nie spesifiek vermeld nie, word regtens aanvaar dat BTW reeds by die ooreengekome prys ingesluit is. In die vooropstelling is dit belangrik dat ‘n eiendomsagent belas met die opstel van ‘n koopooreenkoms, doodseker maak die koopprys maak melding van die bedrag BTW betaalbaar indien dit ‘n BTW transaksie is.

Dit kan egter ook gebeur dat BTW op ‘n bepaalde transaksie teen ‘n nulkoers (0%) betaalbaar is. Die vier kriteria vir ‘n transaksie om daarvoor te kwalifiseer is die volgende:

  • Die Verkoper moet ‘n BTW ondernemer wees;
  • Die Koper moet ‘n BTW ondernemer wees;
  • Die onderneming wat verkoop word moet ‘n lopende saak wees; en
  • Die partye tot die koopooreenkoms moet skriftelik ooreenkom dat die onderneming as ‘n lopende saak verkoop word.
Interessant is die volgende: Waar ‘n BTW ondernemer onroerende eiendom aankoop van ‘n nie-geregistreerde BTW ondernemer moet hy soos reeds bo vermeld, hereregte betaal. Hy mag egter sodanige hereregte as geagte of denkbeeldige insetbelastingkrediet terug eis. In die verlede was hierdie insetbelasting beperk tot die waarde van die hereregte wat betaal is, maar na 1 Januarie 2012 is sodanige perk verhoog. Die insetbelasting word sederdien bereken teen 14/114 x die kleinste (minste) van die bedrag vergoeding betaalbaar of die ope markwaarde van die eiendom.  

Vir enige navrae in hierdie verband of vir die bewoording van enige klousule in ‘n koopooreenkoms, skakel gerus met Mihan Bester by Tel 058-307 5300.
Share: